Vrywilligers help skoolboeke oortrek

Mense word genooi om met Mount Olives hande te vat om die projek uit te brei.
GEORGE NUUS - Vrywilligers van die plaaslike liefdadigheidsorganisasie Mount Olives het sedert die begin van die 2026-skooljaar ingespring en by 'n paar geleenthede in woonbuurte in Pacaltsdorp bymekaargekom, 'n lang tafel en sambrele opgeslaan, en fluks skoolboeke vir minderbevoorregte kinders oorgetrek.
Maggie Damons, stigter en dryfveer agter Mount Olives, sê die begin van die skooljaar is moeilik vir die meeste ouers en daar is baie wat nie altyd al die skryfbehoeftes kan bekostig wat hulle kinders benodig nie.
"Om boeke oor te trek, is iets wat gereeld agterweë bly en ter wille van netheid is dit eintlik 'n vereiste by ons skole. Ons help dus graag die kinders wat dit nie kan doen nie. Die onderwysers is baie bly daaroor."
Hulle het reeds in Reigerpark en Syferfontein boeke oorgetrek en was Saterdag 31 Januarie in Rosedale.
'n Afkondiging is vooraf by Dellvillepark Primêr en by 'n plaaslike sopkombuis gedoen om kinders na die sessies te nooi.
Mense wat met Mount Olives wil hande vat of soortgelyke geleenthede in hul eie woonbuurte wil aanbied, kan Damons by 078 701 7539 skakel.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (2)


Vrywilligers help skoolboeke oortrek



