Van tronkvoëls tot stasiekatte: Pacaltsdorp-polisie se dierebeskermer

Haar eie kat, Flash, was ook ’n stasiekat wat sy vernoem het na die afdeling waar sy werk - firearm, liquor and second hand goods. Tans het Cathy ’n pragtige grys wyfiekat, Luna, waarvoor sy dringend ’n huis soek.
Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Oor twee maande - einde Maart - groet ao. Cathy van der Westhuizen haar kollegas by Pacaltsdorp-polisie. Hierdie liewe mens groet egter ook ’n ryk geskiedenis van dierestories wat sy tydens haar diens by die afdeling vir vuurwapens, drank en tweedehandse goedere oor die laaste 27 jaar versamel het.
Sedert 2000 het sy ses huislose katte, wat by die stasie rondgedwaal het op soek na kos, aangeneem.
“Die diere soek my op, nie ek vir hulle nie,” vertel sy tydens ’n onderhoud Maandagoggend by haar huis. “Daar is al weer ’n swanger kat by die stasie wat al agter my aanloop.”
Haar eie kat, Flash, was ook ’n stasiekat wat sy vernoem het na die afdeling waar sy werk - firearm, liquor and second hand goods. Tans het Cathy ’n pragtige grys wyfiekat, Luna, waarvoor sy dringend ’n huis soek.
“Sy is so lieflik, ek sou haar graag self wou hou, maar Flash wil haar seermaak. Dit is ’n bietjie moeilik om almal gelukkig te hou,” vertel sy.
Cathy kontak gereeld die dierebeskermingsvereniging (DBV) wanneer sy onversorgde of mishandelde honde tydens huisbesoeke vind.
VIDEO - Dadi die tweetoon-Hadida kuier by Cathy
“Verlede jaar het ek ’n hond, genaamd Rose, gered wat in die brandende son sonder kos of water aan ’n ketting vasgebind was. Sy is later deur iemand anders aangeneem nadat sy deur die DBV versorg is,” sê Cathy.
Sy het ook gehelp om ’n maer, hond en haar agt babahondjies uit haglike omstandighede by ’n winkelsentrum te red. Wanneer die polisie huise deursoek en sy honger honde by die huise vind koop Cathy hondekos uit haar eie sak vir hierdie diere.
Tronkvoëls en krieke
By Pacaltsdorp-polisie se selle is daar ’n betonvierkant, waar duiwe gereeld ingehok word wanneer gevangenes geskuif word. “Elke oggend sluit ek die vierkant oop om seker te maak daar is nie duiwe vasgekeer nie. Hulle weet nie hoe om weer uit te vlieg nie en gaan later dood van uitputting en dors,” vertel Cathy.
Tydens die Covid-pandemie het sy na die kleinste wesens omgesien. Buddy die kriek het ’n beseerde been gehad en sy het hom vir twee weke in ’n sneesdoekie-boksie versorg totdat hy weer gesond was en vrygelaat kon word.

Tans kuier ’n tweetoon-Hadida, Dadi, daagliks by haar huis.
“Sy is so mak dat sy uit jou hand eet, in die huis inloop om die katte se kos te steel en selfs op die sitkamerbank rus,” sê Cathy. Dadi het nou ’n maat en dié kom ook kuier en bad in Cathy se tuin. “Hulle maak beurte om na hulle kleintjies te kyk,” sê sy.
Hoogtepunte en hartseer
Oor haar 27 jaar van diens is dit die diere waarmee sy te doen gehad het wat sorg vir beide die hoogte- en laagtepunt van haar loopbaan. “My ergste ervaring was om ’n dooie bees agter op ’n bakkie te sien wat met ’n stomp mes geslag is; die pyn en verskrikking was sigbaar in sy oë,” sê Cathy.
“My beste ervaring was toe Felix, ’n kat wat ek vir ’n wyle by die polisiestasie versorg het, ná 912 dae met sy eienaar herenig is.”
Hierdie verhaal het die Huisgenoot gehaal en landswyd opskudding veroorsaak. Die Swanepoel-egpaar van Mooikloof-landgoed het na byna drie jaar vir Felix teruggekry met die hulp van Cathy en ’n dierewelsynsorganisasie wat die eienaars deur ’n mikroskyfie kon opspoor.
“Ek glo dat die Here ’n mens op die regte tyd en op die regte plek plaas, en dat diere ’n genesende uitwerking op mense het,” sê Cathy.
Met haar aftrede is Cathy van plan om houtwerk te doen. Sy wil ook ’n privaat onderneming begin wat kliënte help met die aansoek van vuurwapenlisensies.
Indien iemand belangstel om Luna aan te neem, kontak Brendon by 074 037 8045.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (5)


Van tronkvoëls tot stasiekatte: Pacaltsdorp-polisie se dierebeskermer



