Rugbyfees môre op Outeniquapark

Een van die mees afgewagte wedstryde is sekerlike die kragmeting tussen die Pacaltsdorp Evergreens en Worcester Villagers om 19:30.
RUGBY NUUS - Rugbyliefhebbers kan gereed maak vir ’n heerlike bederf wanneer die Multisure-rugbytoernooi met ’n vol dag se rugby, lewendige vermaak en egte feesatmosfeer môre, 7 Februarie, op Outeniquapark afskop.
Die geleentheid, in samewerking met die Pacaltsdorp Evergreens, bring van die streek se voorste rugbyklubs bymekaar vir ’n propvol wedstrydprogram, tesame met aktiwiteite en vermaak vir oud en jonk.
Van vroegoggend tot laat die aand kan toeskouers ’n feesgees verwag met ’n verskeidenheid kosstalletjies, regstreekse DJ-vermaak, springkastele om die kinders besig te hou en ’n kontantkroeg wat deur die dag verversings aanbied.
Of jy nou ’n ywerige rugbyondersteuner is of bloot ’n lekker dag saam met familie en vriende wil geniet, die dag beloof iets vir almal.
Een van die mees afgewagte wedstryde is sekerlike die kragmeting tussen die Pacaltsdorp Evergreens en Worcester Villagers om 19:30.
Die ander wedstryde is die Babaas (Mosselbaai) teen die PE Harlequins, die Crusaders teen die Oos-Londen Polisie, die Silver Stars teen die Young Blues en Knysna United teen die All Blacks.
Die aksie sal oor twee velde versprei wees, met ’n mengsel van die seniorklubwedstryde, B-span-kragmetings en ’n skoolwedstryd, Hoërskool George teen Parkdene Sekondêr om 12:30, wat bydra tot die opwinding.
Die Evergreens se voorsitter, Deon Stoffels, sê die wedstryd teen die Worcester Villagers dra groot historiese betekenis.
“Gedurende die 2013 tot 2015 Saru-gemeenskapsbeker-era het die Evergreens en Villagers ’n hewige maar respekvolle wedywering opgebou wat die beste van klubrugby in ons onderskeie streke ten toon gestel het.
“Dit was hoë-intensiteit-, hoë-telling-wedstryde wat voor duisende passievolle ondersteuners gespeel is, met onvergeetlike vertonings deur spelers soos Joseph Fortuin vir Evergreens en Nazeem van Sitters vir Villagers.
“Ontmoetings soos ons 25 - 18-oorwinning in 2013 in Pacaltsdorp en die skrale 22 - 15-sege in 2015 word vandag nog onthou. Hierdie wedstryde het die hoogtepunt van landelike Suid-Afrikaanse klubrugby verteenwoordig, en dit is besonders om te sien hoe hierdie twee trotse klubs weer op só ’n groot verhoog teen mekaar te staan kom,” het Stoffels op die klub se Facebook-blad geskryf.
Wedstrydprogram
Veld A
13:00 -14:30: Knysna United vs All Blacks
14:35 -16:05: Silver Stars vs Young Blues
16:10 -17:40: Crusaders RFC vs East London Police
17:45 -19:15: Barbarians (Mosselbaai) vs PE Harlequins
Bekendstelling van hooggeplaastes en ’n dankbetuiging deur adv. Denton Goodford
19:30 -21:00: Evergreens vs Worcester Villagers
Veld B
10:00 -11:10: Silver Stars B vs Worcester Villagers C
11:15 -12:25: Evergreens B vs Worcester Villagers B
12:30 -13:40: Hoërskool George vs Parkdene Sekondêr
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (1)

Rugbyfees môre op Outeniquapark



