Myrtle Tree bied hulp aan enkelmoeders

MOSSELBAAI NUUS - Die Myrtle Tree NPO se aansoeke vir enkelmoederhuishoudingstoelae is nou weer oop, sê die organisasie se stigter en voorsitter, Berenice Kogana.
Kogana sê vyf moeders word vir ses maande op hul program geplaas. Die organisasie beywer homself vir die behoeftes van enkelmoeders in die Mosselbaai-gebied.
“Ek het Myrtle Tree uit my eie ervaring as enkelmoeder gestig. Vandat my dogter twee jaar oud was, is ek ’n enkelma - sy word nou 21.”
Om ’n enkelmoeder te wees is ’n moeilike pad, sê Kogana.
“Ek ken al die uitdagings en seer wat elkeen dra. Ek het besluit om deur my seer en ondervinding ’n hulp vir hulle te wees. Ek voel daar word nie genoeg klem op hulle geplaas nie.”
Die Myrtle Tree bestaan uit ’n raad van vyf vroue en het ses programme:
• Hospitaalsak: Die organisasie gee elke maand ’n sak vol babaprodukte aan enkelmoeders by die staatshospitaal.
• Krisisswangerskaplyn: ’n Berader is 24/7 per WhatsApp beskikbaar. Die doel is dat jong meisies wat swanger raak met iemand kan praat.
• Berading: Gratis berading aan enkelmoeders, in persoon of aanlyn.
• Tienerma-ondersteuningsgroep: ’n Groep by skole vir tienerma’s en swanger meisies.
• Uitreiking na minderbevoorregte gebiede en verspreiding van sop en klere.
• Enkelmoederhuishoudingstoelaag: ’n Toelaag aan enkelmoeders wat die broodwinner is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (1)

Myrtle Tree bied hulp aan enkelmoeders



