George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Local News/90-jarige Agnes Mouton brei kleurryke truie vir kinders in Burgersdorp
Local News

90-jarige Agnes Mouton brei kleurryke truie vir kinders in Burgersdorp

George Herald
09 February 2026, 05:53(3 months ago)
2,146 views
90-jarige Agnes Mouton brei kleurryke truie vir kinders in Burgersdorp
BURGERSDORP NUUS - Die Graaff-Reinet...

BURGERSDORP NUUS - Die Graaff-Reinet Advertiser het onlangs ’n gesellige kuiertjie met ’n inwoner van Huis Dirk Postma in Burgersdorp, die 90-jarige Agnes Mouton, geniet.

Agnes, vroeër van die Wes-Kaap, is die afgelope drie jaar die ‘breiende wonder’ van die tehuis.

Terwyl die res van die inwoners in die hitte van die somersmiddag hul kosbare middagslapie in hul kamers gaan geniet, of onder ’n waaier sit en rus of lees, neem Agnes met haar mandjie wol en haar nuutste breiprojek voor die oop venster plaas vanwaar sy die hele tehuis se bewegings kan dophou terwyl sy ’n lila-pers en lemmetjiegroen truitjie vir ’n vyfjarige sit en brei.

Agter haar strek die tehuis se tuine.

“Almal weet dat ek graag hier sit met my breiwerk, en hier is die lig op my breiwerk ook die heel beste.

Ek brei nie meer graag met donker wol nie - dis te stremmend op my oë - en ek verkies om self my wol uit te soek, want ek hou van ’n sekere kwaliteit en tekstuur,” vertel die vlytige vrou, wie se konsentrasie geensins van haar breiwerk afdwaal terwyl sy gesels nie.

“Ek het al ’n paar naalde in my lewe moes weggooi, want ek het hulle stomp gebrei!” lag sy.

Agnes vertoon graag haar breiwerk van die laaste paar maande.

Sy haal ’n kleurvolle mengelmoes uit talle swart sakke tevoorskyn en pak dit uit.

’n Verstommende 21 kindertruie, 11 musse en drie oortrektruitjies verskyn uit die sakke, elkeen mooier as die vorige.

Soveel kledingstukkies voltooi - en dit terwyl sy boonop vir drie maande by haar kinders gekuier het, waar Burgersdorp se mense ook af en toe ’n truitjie vir ’n spesiale geskenk kom koop het.

Elke kledingstuk is ’n unieke skepping, met verstommende presisie, netheid en tegniek gemaak.

Patroonsteke wat kophou en uithou verg, saam met die pragtige afwerking, maak elke truitjie ’n spogstuk.

Vaardig ruil sy kleure aan die einde van ’n ry.

“Hier in die yskoue Noordoos-Kaap dra kindertjies nog handgebreide truie, want ’n handgebreide trui is baie warmer as ’n winkeltruitjie, en hulle hou ook langer,” sê sy.

“Ek slaap snags soos ’n klip en bekommer my net mooi niks oor die dag van môre nie, want ek bly besig,” vertel sy terwyl die ander inwoners stuk-stuk uit hul kamers kom ná hul middagslapie hulle kom verwonder oor die versameling truie.

Agnes Mouton bêre nie haar breiwerk in die somer nie; sy sprinkel ’n bietjie babapoeier oor haar hande en sit die waaier aan, en brei dan blitsvinnig voort.

Dit is ’n absolute voorreg om hierdie vrou, wat haar met soveel vrolike kleure besig hou, te ontmoet: ’n voorbeeld vir elkeen wat wonder hoe om die dag om te kry en iets vir die gemeenskap te doen.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (1)

90-jarige Agnes Mouton brei kleurryke truie vir kinders in Burgersdorp
1 / 1

90-jarige Agnes Mouton brei kleurryke truie vir kinders in Burgersdorp

Original article: georgeherald.com

Related Articles