George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Rugby/Van Bridgton na Super Rugby Americas
Rugby

Van Bridgton na Super Rugby Americas

George Herald
27 January 2026, 23:59(4 months ago)
8,517 views
Van Bridgton na Super Rugby Americas
OUDTSHOORN NUUS - Zinedine Geraldo Booysen...

OUDTSHOORN NUUS - Zinedine Geraldo Booysen (27), 'n oudspeler van Bridgton-rugbyklub, het onlangs 'n groot loopbaanmylpaal bereik nadat hy 'n professionele rugbykontrak onderteken het en tans in die Super Rugby Americas-reeks in Brasilië speel.

Booysen se reis na dié geleentheid het op 'n onverwagse manier begin.

"Ek was aanvanklik oorsee in China om my meisie, Bernadine Rademeyer, te gaan besoek toe afrigters van Brasilië my gekontak het," vertel hy.

Kort daarna het dinge vinnig gebeur en het hy homself in 'n professionele rugbyomgewing aan die ander kant van die wêreld bevind.

Sy huidige kontrak strek oor die lopende seisoen, met die moontlikheid van 'n langer verblyf indien alles volgens plan verloop.

"As alles goed gaan, kan ek dalk lang-termyn hierdie kant aanbly. Alles hang af van hoe hierdie seisoen verloop."

Booysen sê hy was tot die einde van 2024 by SWD gekontrakteer. Gedurende 2025 het hy as afrigter by Hoërskool Oudtshoorn en Laerskool Wesbank opgetree, terwyl hy terselfdertyd sy afrigtingskursus en 'n masseringsterapiekursus voltooi het. In dié tyd het hy steeds aktief rugby vir sy tuisklub, Bridgton-rugbyklub gespeel.

Hy beskryf die oorsese geleentheid as 'n droom wat bewaarheid word.

"Rugby is my werk, so ek is ongelooflik dankbaar dat ek iets wat ek so liefhet, professioneel kan doen," sê hy.

Wat sy toekoms betref, is Booysen duidelik oor sy doelwitte.

"My plan is om my drome verder uit te leef, om aan te hou rugby speel en die wêreld te sien. Rugby maak dit moontlik. Ek wil nog 'n paar jaar oorsee speel, en wanneer die tyd reg is, sal ek en Bernadine terugkeer Suid-Afrika toe."

Hoewel hy aanvanklik onseker was oor die skuif, sê Booysen dit was die beste besluit wat hy kon neem. "Ek was 'n bietjie skrikkerig, maar vandat ek hier aangekom het, is ek ongelooflik gelukkig. Die mense is fantasties."

Sy span bestaan uit spelers van regoor die wêreld. "Ons het Brasiliane, Argentyne en ses Suid-Afrikaners. Die opgewondenheid is baie hoog en die harde werk intens, maar ons word uitstekend behandel. Almal was van die begin af baie verwelkomend."

Booysen sê hy is dankbaar vir elke geleentheid wat oor sy pad kom en fokus nou daarop om die huidige seisoen ten volle te benut. "Ek is regtig baie, baie gelukkig hier."

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (2)

Van Bridgton na Super Rugby Americas
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 2

Van Bridgton na Super Rugby Americas

Original article: georgeherald.com

Related Articles