George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Rugby/Tradisie, toekoms en trots hou Georgies aan die gang
Rugby

Tradisie, toekoms en trots hou Georgies aan die gang

George Herald
15 January 2026, 13:02(4 months ago)
5,208 views
Tradisie, toekoms en trots hou Georgies aan die gang
GEORGE NUUS - Terwyl die spelers reeds sweet op die oefenveld ter voorbereiding vir die nuwe seisoen, bou George-rugbyklub doelgerig aan iets groter as net wedstryde en punte - n volhoubare toekoms

Correspondent Hugo Redelinghuys

GEORGE NUUS - Terwyl die spelers reeds sweet op die oefenveld ter voorbereiding vir die nuwe seisoen, bou George-rugbyklub doelgerig aan iets groter as net wedstryde en punte - 'n volhoubare toekoms gegrond op mense, waardes en die gemeenskap.

Volgens Jacques van Reenen, president van George-rugbyklub, is die klub se grootste krag nie net wat op die veld gebeur nie, maar die unieke kultuur wat oor dekades heen gevestig is.

"By Georgies is daar 'n spesiale atmosfeer van liefde en samesyn. Ons is meer as 'n rugbyklub - ons is 'n familie," sê hy.

Die klub se leuse, "Beauty for Ashes," weerspieël hierdie ingesteldheid.

"In die wêreld ontvang mense daagliks as, en baie gee as vir as terug. By Georgies probeer ons iets anders doen - ons gee skoonheid terug vir as," verduidelik Van Reenen.

George-rugbyklub bied 'n veilige en respekvolle omgewing vir spelers van alle ouderdomme, met 'n topgehalte oefenveld, hooggeskoolde mediese personeel, 'n opgegradeerde klubhuis, ervare afrigters en 'n bekwame bestuurspan.

"As leiers verstaan ons dat mense ons grootste bate is. Daarom word borgfondse verantwoordelik bestuur, met die welstand van ons spelers en die klub as prioriteit," voeg Van Reenen by.

Die klub, wat in 1883 gestig is en een van die oudste rugbyklubs in Suid-Afrika is, het deur die jare groot aansien geniet en spelers opgelewer wat op die hoogste vlakke van die spel meegeding het. In vroeër jare was George-rugbyklub bekend as die dorp se hartklop, maar veranderende omstandighede bring nuwe uitdagings.

Met die groei van sterk gemeenskapsklubs in George, asook die ligging van die oefenveld, is die stryd om talent groter as ooit. Daarby het die gaping tussen hoërskoolrugby en klubrugby oor die jare vergroot. "Baie jong manne sukkel om die oorgang te maak en kies uiteindelik om ná skool op te hou rugby speel," sê Van Reenen.

George-rugbyklub het hierdie werklikheid in die oë gekyk en fokus doelbewus op mentorskap en geleidelike blootstelling van jong spelers aan seniorrugby. Die vrugte van dié benadering was reeds sigbaar in die 2025-seisoen, toe die klub 'n rekordgetal o. 21-spelers geregistreer het - jong manne wat nou 'n tasbare bydrae tot die klub se DNA lewer.

Maar nie alle uitdagings speel op die veld af nie. In 2023 is die klub swaar getref toe die George-munisipaliteit advertensieborde by die verkeersirkel verwyder het weens wetgewing rakende advertensies naby nasionale paaie. Die gevolg was 'n verlies van ongeveer 70% van die klub se jaarlikse inkomste, wat George-rugbyklub in 'n ernstige finansiële knyp geplaas het.

Hoewel die munisipaliteit onderneem het om 'n muur by die noordpaviljoen van die A-veld te bou om alternatiewe advertensieruimte te skep, het die finansiële impak diep gesny.

"2025 was uit 'n finansiële oogpunt 'n baie moeilike jaar," erken Van Reenen. "Spelers, afrigters en bestuur moes groot opofferings maak - dikwels tot nadeel van hul eie gesinne en persoonlike finansies."

"Ons gee om vir mekaar en bied onder-steuning waar ons kan om die druk van sosiale en ekonomiese omstandighede te help dra," sê Van Reenen. "Die druk is groot, maar ons hou aan vorentoe beweeg."

Lede van George-rugbyklub staan trots bekend as Georgies - 'n naam wat veerkragtigheid, lojaliteit en gemeenskapsgees simboliseer. "Ons staan sterk te midde van die storms wat in ons geliefde stad woed," sê Van Reenen. "Want ons is Georgies - en ons gee nie maklik moed op nie."

Photos (2)

Tradisie, toekoms en trots hou Georgies aan die gang
Tradisie, toekoms en trots hou Georgies aan die gang
1 / 2

Tradisie, toekoms en trots hou Georgies aan die gang

Tags:george rugbyklubgeorgiesjacques van reenen
Original article: georgeherald.com

Related Articles