Top- SA muurbalspelers in George-toernooi hierdie naweek

GEORGE NUUS - Die George-muurbalklub bied hierdie naweek die jaarlikse George Ope Toernooi aan waar 38 professionele spelers vanoor die land en ook spelers van Zimbabwe en Zambië deelneem.
Dit het om 14:00 vanmiddag afgeskop en loop Sondag 25 Januarie ten einde. Helena Hudson, eerste gekeurde vrouespeler vir die toernooi, is hier van Pretoria af om haar kampioentitel van verlede jaar te kom verdedig.
Sy neem oor twee weke ook deel aan die nasionale dubbelstoernooi wat oor twee weke plaasvind.
Hudson (25), wat al van die ouderdom van 10 jaar af muurbal speel, sê sy het hard saam met haar pa, broers en haar man geoefen oor Desember. Deel van hul voorbereiding was 'n familietoernooi waarin sy tweede gekom het. "Maar dit was 'n close tweede plek naas my een broer," lag sy.
"Ek sien uit na die George Ope. Dis 'n lekker afskop vir die nuwe jaar."
Volgens die toernooi-organiseerder, JP Brits, neem 50 spelers deel. Die toernooi is een van die grootstes wat jaarliks in die Tuinrote gehou word.
Dis 'n unieke geleentheid vir Georgiete om die beste Suid-Afrikaanse en ander Afrika-spelers plaaslik in aksie te sien en vir plaaslike spelers om kragte te meet met van die bestes in die land en waardevolle ondervinding op te doen.
Spelers ding mee om internasionale ranglyspunte te verdien.
Die finale word Sondag gehou waar die kampioene in die mans- en vroueafdelings bepaal word.
Die aksie by die George-muurbalklub het vanmiddag begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (2)


Top- SA muurbalspelers in George-toernooi hierdie naweek


