Sewe rekords by George-Suid se kleuresport
Hoewel die Groenspan nie met die algehele oorwinning kon wegstap nie, het hulle beslis daarvoor opgemaak met hul uitbundige en entoesiastiese ondersteuning.
KLEURESPORT NUUS - 'n Feestelike atmosfeer, bykans perfekte weer en hope jong atletiektalent het verlede Vrydag saamgespan om Laerskool George-Suid se jaarlikse kleuresport 'n besonder geslaagde geleentheid te maak.
Die byeenkoms is op Hoërskool Outeniqua se sportterrein aangebied en het sewe nuwe rekords opgelewer - 'n duidelike bewys dat die jong atlete die dag aangegryp het om hul beste te lewer, op sowel die baan as in die veldnommers.
Die Rooispan het met 'n kragvertoning vorendag gekom en die byeenkoms met 1 428 punte gewen, gevolg deur 'n vasberade Geelspan met 1 392 punte.
Die Groenspan het derde geëindig met 1 359 punte, wat die kompetisie regdeur die dag spannend en mededingend gehou het.
Benewens die stryd om spogregte tussen die spanne, het individuele uitblinkers ook hul stempel afgedruk.
Lilly Viljoen is aangewys as die junior victrix ludorum, terwyl William Stones die titel van junior victor ludorum verower het. Mieke de Waal is as senior victrix ludorum gekroon, met Legan Claassen as die senior victor ludorum.
Hoewel die Groenspan nie met die algehele oorwinning kon wegstap nie, het hulle beslis daarvoor opgemaak met hul uitbundige en entoesiastiese ondersteuning. Hul luidrugtige en kleurvolle vertonings op die pawiljoen het aan hulle die geesbeker besorg.
'n Gesonde, maar ferm mededingende gees het deurentyd geheers, met leerders wat mekaar aangemoedig en goeie prestasies saam gevier het - ongeag spankleur. Talle ouers, grootouers en familielede het die geleentheid bygewoon om die ontluikende talent te ondersteun.
Met rekords wat spat, jong talent wat blom en skoolgees wat hoog geloop het, het Laerskool George-Suid se kleuresport weereens bewys waarom dit 'n hoogtepunt op die skoolkalender is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (1)
Sewe rekords by George-Suid se kleuresport


