George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Athletics/Rekords spat by Outeniqua se kleure-atletiek
Athletics

Rekords spat by Outeniqua se kleure-atletiek

Hugo Redelinghuys
29 January 2026, 09:59(4 months ago)
8,914 views
Rekords spat by Outeniqua se kleure-atletiek
SKOLEATLETIEK NUUS - Rekords het behoorlik getuimel en die gees was tasbaar toe altesaam 19 rekords verbeter en nóg een geëwenaar is tydens Hoërskool Outeniqua se Easycare-kleure-atletiekbyeenkoms
Hugo RedelinghuysThursday, 29 January 2026, 11:59

Die vertoning van die dag het aan Ray-Jordan Schoeman (Rooi) behoort. Sy blitsvinnige 13,70 sekondes in die 110 m-hekkies vir seuns o.17 het nie net ’n nuwe rekord opgelewer nie, maar ook 934 punte - die hoogste telling van die byeenkoms.

SKOLEATLETIEK NUUS - Rekords het behoorlik getuimel en die gees was tasbaar toe altesaam 19 rekords verbeter en nóg een geëwenaar is tydens Hoërskool Outeniqua se Easycare-kleure-atletiekbyeenkoms verlede Woensdag, 21 Januarie.

Op die puntelys was dit die Groenspan wat uiteindelik die botoon gevoer het met ’n stewige 1 140 punte, gevolg deur Blou (966), Rooi (866) en Geel (676).

Hoewel die Groenspan met die louere weggestap het, was dit die Rooispan wat die paviljoen laat dreun het en met hul uitbundige ondersteuning en die Geesbeker ingepalm het.

Individueel het verskeie atlete hul stempel afgedruk. Megan Botha (Geel) het behoorlik genael vir ’n uitstaande oorwinning in die 200 m vir dogters o.14 in 26,16 sekondes, terwyl Gideon Boshoff (Geel) sy krag gewys het met seges in beide die gewigstoot en diskusgooi vir seuns o.14.

Vir Groen het Leane Koen (dogters o.15 diskus), Mieke Scholtz (gewigstoot o. 17) en Madison O’Connel (hamergooi o.19) hul klas gewys, terwyl Olivier Curtwin (Rooi) met ’n skitterende 6,15 m die verspring vir seuns o.15 gewen het.

Tatyana Viljoen (Blou) het Miré Reinstorf se hoogspringrekord vir dogters o.17 van 3,30 m, wat in 2019 opgestel is, na 3.41m verbeter.

Die vertoning van die dag het egter aan Ray-Jordan Schoeman (Rooi) behoort. Sy blitsvinnige 13,70 sekondes in die 110 m-hekkies vir seuns o.17 het nie net ’n nuwe rekord opgelewer nie, maar ook 934 punte - die hoogste telling van die byeenkoms. Hy is tereg as die algehele beste presteerder aangewys.

By die trofeë het Leane Koen die titel as junior victrix ludorum verower, met James Hewitt die junior victor ludorum.

In die senior afdeling is Mieke Scholtz as victrix ludorum aangewys, terwyl Walter van Rensburg die victor ludorum-eer ontvang het.

Die rekordlys het verder gegroei met indrukwekkende verbeterings deur onder andere Lynne Walters, Megan Stahmer, Jayden Fourie, Jac du Plessis, Keenan Nathan en Walter van Rensburg, wat bevestig het dat Outeniqua se atletiek diepte, kwaliteit én toekoms het.

Met rekords wat spat, spanne wat mekaar opjaag en ’n paviljoen vol trots, het die kleure-atletiek weer bewys: by Outeniqua gaan dit oor veel meer as net wen - dit gaan oor gees, karakter en ontluikende atletiektalent.

Leane Koen in aksie in die spiesgooi vir dogters o.15. Sy het ook Mieke Strydom se 2015-rekord (35.28) in die diskus na 37.79 verbeter.
Leane Koen in aksie in die spiesgooi vir dogters o.15. Sy het ook Mieke Strydom se 2015-rekord (35.28) in die diskus na 37.79 verbeter.

Die beste individuele prestasies is gelewer deur:

Megan Botha (Geel) wen die 200 m vir dogters o.14 in 26,16 sek. vir 873 punte.

Gideon Boshoff (Geel) wen die gewigstoot vir seuns o.14 met 'n afstand van 12.19 m (709 punte) en die diskusgooi in 39,25 m (709 punte).

Leane Koen (Groen) wen die diskus vir dogters o.15 met 37,79 (896 punte).

Olivier Curtwin (Rooi) wen die verspring vir seuns o.15 met 'n afstand van 6,15 m (800 punte).

Mieke Scholtz (Groen) wen die gewigstoot vir dogters o. 17 met 13,33 m (869 punte).

Ray-Jordan Schoeman (Rooi) wen die 110 m-hekkies vir seuns o.17 in 13,70 sek. (934 punte).

Madison O’Connel (Groen) wen die hamergooi vir dogters o.19 met 34,29 (840 punte).

Henco Swanepoel (Blou) wen die hamergooi vir seuns o.19 met 47,94 m (883 punte).

Leane Koen is aangewys as die junior victrix ludorum en James Hewitt die junior victor ludorum.

Mieke Scholtz is aangewys as die senior victrix ludorum en Walter van Rensburg as die senior victor ludorum.

Die algehele beste prestasie van die kleurebyeenkoms is toegeken aan Ray-Jordan Schoeman vir sy skitterende oorwinning in die 110 m-hekkies vir seuns o.17 in 13,70 sek. wat aan hom 934 punte besorg het.

Die volgende atlete het nuwe rekords opgestel (vorige rekord in hakies):

BLOU

Megan Stahmer dogters o.17, 200 m, 26.37 (26.50 A. Botes 2001)

Lynne Walters dogters o.19, 100 m, 12.65 (12.95 P. Fick 2022)

Lynne Walters dogters o.19, 200 m, 26.66 (26.90 M. van der Merwe 2017)

Elirque Smith seuns o.14, 200 m, 23.75 (23.80 M. van der Westhuizen 2007)

Tatyana Viljoen dogters o.17, paalspring, 3.41 (3.30 (Mire Reinstorf 2019)

Maria Wolfaardt dogters o.15, hamergooi, 44.60 (41.59 C. Britz).

GEEL

Megan Botha dogters o.14, 100 m, 12.60 (12.90 Z. Dixon 2023)

Megan Botha dogters o.14, 200 m, 26.16 (27.10 A. Smal 2007)

Sammy de Kock dogters o.15, 100 m, 13.00 (13.00 A. Meyer 2025)

Sammy de Kock dogters o.15, 400m, 1:02.59 (1:03.00 A. Botes 2023)

Jayden Fourie seuns o.17, 100 m, 10.38 (10.50 J. Fourie 2025).

GROEN

Kayla Bezuidenhout dogters o.19, 200 m, 26.78 (26.90 M. Van der Merwe 2017)

Jac du Plessis seuns o.17, 800 m, 1:58.56 (2:02.10 Elroy Galant 2003)

Jac du Plessis seuns o.17, 1 500 m, 04:05.40 (04:08.50 T. Erasmus 2024)

James Hewitt seuns o.15, driesprong, 12.42 (11.85 T. Pienaar 2020)

Leane Koen dogters o.15, diskus, 37.79 (35.28 Mieke Strydom 2015).

ROOI

Keenan Nathan seuns o.19, 100 m, 10.72 (10.85 K. Syster 2022)

Keenan Nathan seuns o.19, 200 m, 21.90 (22.20 S. Keenan 2019)

Walter van Rensburg seuns o.19, gewigstoot, 16.35 (16.07 (Z. du Plessis 2025)

Walter van Rensburg seuns o.19, diskus, 44.72 (44.56 Berrie Botha 2017).

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (2)

Rekords spat by Outeniqua se kleure-atletiek
Rekords spat by Outeniqua se kleure-atletiek
1 / 2

Rekords spat by Outeniqua se kleure-atletiek

Tags:kleureatletiekhoërskool outeniquasportskoleatletiekhugo redelinghuys
Original article: georgeherald.com

Related Articles