Lloyd Bosman wen Burger-wedloop

OUDTSHOORN NUUS - As daar nog enige twyfel was oor wat Tuinroete-hardlopers se harte - en mae - vinniger laat klop, is dit verlede Woensdag finaal uit die weg geruim: 'n warm, gratis kaasburger het die medaljes die kroon gesteek.
Die tweede Chasing Cheese Burger-padwedloop, wat op Woensdag 14 Januarie deur die Outeniqua Harriers-atletiekklub aangebied is, het weer 'n kleurvolle mengsel van entoesiastiese atlete uit dorpe regoor die Tuinroete gelok.
Bekende atleet, Lloyd Bosman (Nedbank), het die mans 10 km-afdeling in 'n tyd van 33:03 gewen.
In totaal het 387 deelnemers die 10 km roete aangepak, terwyl 242 die meer ontspanne 5 km aangedurf het.
Volgens Duppie du Preez, organiseerder van Outeniqua Harriers, is die wedloop onder bykans perfekte hardlooptoestande aangebied.
Die wedloop het, soos verlede jaar, by RocoMamas in Davidsonweg begin en by die Geronimo Spur in Yorkstraat geëindig.
Du Preez sê die geesdrif was tasbaar, van die eerste wegspring tot die laaste voeteklap by die eindstreep, en dit was duidelik dat atlete na die nuwe hardloopseisoen uitsien.
Maar, dit was by die prysuitdeling waar die ware ster van die aand na vore getree het. Deelnemers kon kies tussen 'n tradisionele medalje of 'n gratis kaasburger en Dean Hahn, eienaar van die Geronimo Spur, reken sowat 350 atlete het, sonder huiwering, die burger gekies.
Op die pad self het Nedbank-atletiekklub hul stempel afgedruk. Selwyn Matthews was tweede in die 10 km-mansafdeling en Luciano Squire derde.
In die vroueafdeling was dit Carla Spangen-berg en Melissa van Rensburg, albei van Nedbank, wat onderskeidelik eerste en tweede geëindig het, met Cindy Viljoen ('n tydelike atleet) derde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (2)


Lloyd Bosman wen Burger-wedloop


