Groot-Brak mik vir stabiliteit in strawwe SWD-liga

RUGBY NUUS - Groot-Brak-rugbyklub sê hy is administratief en struktureel gereed vir die nuwe SWD-klubrugbyseisoen met sy spelersdiepte en beskikbaarheid wat vanjaar 'n deurslaggewende rol in hul veldtog kan speel.
Die klub sal vanjaar weer in die SWD Super A-liga meeding, 'n kompetisie wat al hoe strawwer raak weens die fisieke aard en intense meedinging van wedstryde en die druk wat promosie- en relegasiereëls op klubs plaas.
Johan Lerm, direkteur van afrigting van Groot-Brak, het in 'n onderhoud gesê die afrigtingspan is reeds bevestig en in die oefengroep van 40 spelers is daar baie ervaring en ontluikende talent saamgesnoer.
"Ons gaan doelbewus op kontinuïteit staatmaak. Ek het geleer dat stabiliteit in die afrigtingstruktuur en onder die spelers noodsaaklik is, veral in 'n liga waar klein marges groot verskille maak," het hy gesê.
Wat die spelersgroep betref, beskik Groot-Brak tans oor 'n gesonde kern van ervare spelers, aangevul deur jonger manne uit die omgewing.
Onder die ou hande wat weer beskikbaar is, is die kaptein, Marquin Smart, Winrich Kennedy (stut), Justin 'Biggy' Williams (slot), Wilmar 'Boetie' Groenewald (flank), Byron Groenewald (flank) en Byrol Stuurman (flank), om net enkeles te noem.
Twee oudspelers, wat albei in 2023/2024 vir Groot-Brak uitgedraf het toe die klub die SWD-klubkapioen was, is weer terug. Beide Edgar Syfers (losskakel) en Esra Matroos (senter) is vir ons groot aanwinste en gaan met hul ervaring 'n groot verskil in die span maak.
Twee belowende spelers, wat verlede jaar vir die SWD se o. 21's uitgedraf het, is ook vir Groot-Brak beskikbaar. "Boetie Gervinne (flank/agtsteman) en Gilwin Blom (slot) se teenwoordigheid sal beslis die jonger spelers aanspoor en die ouer manne op hul tone hou,"sê Lerm.
Voorseisoen-voorbereiding is reeds volstoom aan die gang en Groot-Brak het twee oefenwedstryde wat op 7 en 14 Februarie voorlê. Lerm reken dié oefenwedstryde sal waardevolle insig gee oor die spelers se fiksheid en strukture.
Hy sê sy grootste uitdaging is om die spelers se kondisionering op te skerp en vir die span om sterk struktureel te speel.
Die klub se primêre doelwit vir die seisoen is om die afrigters en spelers te bemagtig en om die beste uit elkeen te haal.
"Ons het 'n sterk bestuurspan, ervare afrigters, 'n groep entoesiastiese spelers met hope ervaring én belangrik, ons trotse gemeenskapsondersteuners wat altyd bankvas agter die span staan.
"Dis 'n nuwe jaar en nuwe seisoen en ons fokus op die toekoms - wedstryd vir wedstryd. Ek wil ook die spelers aanpor om as rolmodelle vir jeug op te tree, op en van die veld af. Ons wil 'n nalatenskap agterlaat waarop die klub en sy ondersteuners trots kan wees."
Photos (1)

Groot-Brak mik vir stabiliteit in strawwe SWD-liga


