George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Latest Sport/Evergreens mik weer hoog
Latest Sport

Evergreens mik weer hoog

Hugo Redelinghuys
04 February 2026, 14:23(3 months ago)
3,398 views
Evergreens mik weer hoog
RUGBY NUUS - As die verdedigende SWD Super A- ligakampioen is Evergreens se doelwit vir die nuwe seisoen glashelder: om weer die beker omhoog te hou en terselfdertyd te wys dat die Green Machine
Hugo RedelinghuysWednesday, 04 February 2026, 16:23

'n Verdere belangrike mikpunt vir Evergreens is om reeds in die eerste ronde van die Superliga vir die Goue Beker-kompetisie te kwalifiseer.

RUGBY NUUS - As die verdedigende SWD Super A- ligakampioen is Evergreens se doelwit vir die nuwe seisoen glashelder: om weer die beker omhoog te hou en terselfdertyd te wys dat die Green Machine ook buite die plaaslike verhoog kan presteer.

Só het Deon Stoffels, voorsitter van Evergreens, die klub se ambisie en voorbereiding vir die seisoen wat voorlê opgesom.

"Ons wil die titel suksesvol verdedig, maar ons is deeglik bewus daarvan dat ons nou in die visier is. Die ander spanne gaan sterker en deegliker voorberei - en dit beteken ons sal ons sokkies moet optrek," erken hy.

Strawwe kompetisie

Volgens Stoffels is strawwer kompetisie egter geen slegte ding nie. "Ek verwelkom dit. Op die langtermyn gaan dit die standaard van SWD-rugby net verder lig. In die Super A-liga is daar eenvoudig nie klein of groot wedstryde nie - elke week is 'n toets."

Hy verwag veral sterk teenstand van Heidelberg, wat volgens hom oor die afgelope drie seisoene net so maklik kampioen kon gewees het, asook Groot-Brakrivier, Progress, Barbarians en Bridgton, wat almal as gedugte teenstanders beskou word.

Mikpunte

'n Verdere belangrike mikpunt vir Evergreens is om reeds in die eerste ronde van die Superliga vir die Goue Beker-kompetisie te kwalifiseer. "Dit beteken ons sal die voortou moet neem en konsekwent wen. Ons wil onsself vroeg reeds in 'n sterk posisie plaas," verduidelik Stoffels.

Op die groter verhoog wil Evergreens ook sy merk laat. "Ons wil baie graag by die Saldanha Paasfees se Top-8-toernooi suksesvol meeding en op die laaste dag in die hoofwedstryd uitdraf. Dit is 'n ideale platform om te wys dat Evergreens meer as net 'n plaaslike krag is."

Oefeninge

Wat voorbereiding betref, sê Stoffels dinge is op dreef, maar daar is nog werk om te doen.

"In die volgende twee weke sal ons ons kondisionering met sowat 10% tot 15% moet opskerp. Tegniese aspekte van ons spel geniet ook nou groot aandag."

Hy erken dat oefeninge in Desember swak bygewoon is weens werksverpligtinge, rustyd vir seer lywe en nuwe aanwinste wat na hul onderskeie provinsies teruggekeer het. Sedert Januarie het sake egter drasties verbeter.

"Ons oefen Maandae, Dinsdae en Donderdae en kry gemiddeld tussen 60 en 70 spelers by oefeninge. Wat my werklik bemoedig, is die honger en positiewe gees onder die spelers."

Afrigting

'n Verandering in die afrigtingstruktuur sien Marvin November, oudspeler en hulpafrigter, wat nou die leisels oorneem ná Ricardo Beukes se besluit om sy eie rugby-akademie in Pacaltsdorp te begin.

Evergreens het ook 'n groot groep nuwe spelers verwelkom, insluitend sowat 50 juniorspelers wat hul skoolloopbane voltooi het. "Daar is baie ontluikende talent wat wag vir speelkans," sê Stoffels. "Tog is ons tans effens dun in sleutelposisies - veral op slot, stut en haker."

Spelerskuiwe

Die klub het ook verliese gely. Die dinamiese losvoorspeler Leighton van Wyk speel nou klubrugby in Spanje, terwyl Ethan Stuurman na die Rhinos geskuif het.

Twee uitstaande slotte van verlede seisoen, Lububalo 'Giant' Mtyanda en die Zimbabwiër Godwin Mangenje, is ook nog afwesig, hoewel onderhandelinge met hulle aan die gang is.

Stoffels sê een aspek waaraan Evergreens spesifiek aandag gee, is samespel. "Dit het ons verlede seisoen 'n paar keer amper in die steek gelaat, maar ons werk hard daaraan om dit te slyp."

Ondersteuners

Ten slotte het hy 'n woord van lof vir die klub se ondersteuners. "Ons gemeenskap se ondersteuning is ongelooflik. Die hekinkomste speel 'n reuserol om die rugbywiele aan die rol te hou, en daarvoor is ons opreg dankbaar."

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (1)

Evergreens mik weer hoog
1 / 1

Evergreens mik weer hoog

Tags:rugbyklubrugbyswd super a ligahugo redelinghuysevergreens
Original article: georgeherald.com

Related Articles