George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Other Sport/Deelnemers kies kaasburgers bo tradisionele medaljes
Other Sport

Deelnemers kies kaasburgers bo tradisionele medaljes

George Herald
22 January 2026, 00:27(4 months ago)
7,592 views
Deelnemers kies kaasburgers bo tradisionele medaljes
PADWEDLOOP NUUS - As daar nog enige twyfel...

Gallery

PADWEDLOOP NUUS - As daar nog enige twyfel was oor wat Tuinroete-hardlopers se harte - en mae - vinniger laat klop, is dit verlede Woensdag finaal uit die weg geruim: 'n warm, gratis kaasburger het die medaljes die kroon gesteek.

Die tweede Chasing Cheese Burgers-padwedloop, wat op Woensdag 14 Januarie deur die Outeniqua Harriers-atletiekklub aangebied is, het weer 'n kleurvolle mengsel van entoesiastiese atlete uit dorpe regoor die Tuinroete gelok.

Van George Herald se personeel het sewe aan die 10 km en 10 aan die 5 km deelgeneem.

In totaal het 387 deelnemers het die 10 km-roete aangepak, terwyl 242 die meer ont-spanne 5 km aangedurf het.

Volgens Duppie du Preez, organiseerder van Outeniqua Harriers, is die wedloop onder bykans perfekte hardlooptoestande aangebied al was dit vir sommige dalk net 'n bietjie té warm. "Maar dalk was dit juis daardie bedompige hitte wat die volgende dag se onverwagte reën oor George gebring het," het hy tong-in-die-kies bygevoeg.

Die wedloop het, soos verlede jaar, by RocoMamas in Davidsonweg begin en by Geronimo Spur in Yorkstraat geëindig.

Du Preez sê die geesdrif was tasbaar, van die wegspring tot die laaste voeteklap by die eindstreep, en dit was duidelik dat atlete na die nuwe hardloopseisoen uitsien.

Maar dit was by die prysuitdeling waar die ware ster van die aand na vore getree het.

Deelnemers kon kies tussen 'n tradisionele medalje of 'n gratis kaasburger en Dean Hahn, eienaar van die Geronimo Spur, reken sowat 350 atlete het, sonder huiwering, die burger gekies.

"Dis duidelik dat 'n mens soms jou harde werk eerder met iets eetbaars wil beloon," het hy glimlaggend gesê.

Op die pad self het Nedbank-atletiekklub hul stempel afgedruk. Lloyd Bosman, Selwyn Matthews en Luciano Squire het die voorste drie plekke in die 10 km-wedloop ingeneem.

In die vroueafdeling was dit Carla Spangenberg en Melissa van Rensburg, albei van Nedbank, wat onderskeidelik eerste en tweede geëindig het, met Cindy Viljoen ('n tydelike atleet) derde.

  • Bosman het die afgelope naweek 'n tweede plek behaal in die Bay to Bay 30 km-wedloop in Kaapstad. Nog 'n Georgiet, HTS Eden oud-leerder Wayne April, het 'n 11de plek behaal.

‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’

Photos (10)

1 / 10

Deelnemers kies kaasburgers bo tradisionele medaljes

Original article: georgeherald.com

Related Articles