George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Social/Laerskool Wesbank hou biddag vir reën
Social

Laerskool Wesbank hou biddag vir reën

George Herald
27 January 2026, 23:51(4 months ago)
3,323 views
Laerskool Wesbank hou biddag vir reën
OUDTSHOORN NUUS - "Lanklaas het 'n...

OUDTSHOORN NUUS - "Lanklaas het 'n foto my laat huil. My trane loop vrylik. Hierdie foto sny diep, nie omdat dit perfek is nie, maar juis omdat dit rou is. Honderde klein lyfies op hul knieë, koppe gebuig en handjies gevou. Kinders wat bid, nie vir speelgoed, skerms of gemak nie, maar vir reën. Vir boere. Vir mense wie se pyn hulle aanvoel, al ken hulle hulle nie eens persoonlik nie."

Só het Burre Burger op Facebook geskryf ná leerders en personeel van Laerskool Wesbank in Oudtshoorn op 23 Januarie saamgekom het vir 'n biddag vir reën.

Die inisiatief het ontstaan nadat Burger se droogtehulp-projek die skool se aandag getrek het. Volgens Sureka Wallace, die skoolhoof, het die idee ontwikkel toe hulle 'n plakkaat gesien het wat skole uitdaag om aan 'n civvy-dag deel te neem ten bate van droogtehulp en landelike gemeenskappe.

"Marinda Janse van Rensburg het ons aangemoedig om betrokke te raak, en die volgende dag het Blommie Jonck, volledig geklee in haar boere-uitrusting, 'n vertoning vir die leerders gehou en vir hulle van die projek vertel. Van daar af het alles net in mekaar gevloei," vertel Wallace.

Personeel van Laerskool Wesbank tydens die biddag vir reën.

Sy sê die leerders is aangemoedig om by te dra indien dit op hul harte gedruk het. "Niemand is geforseer nie. Ons het nooit verwag wat daardie dag sou gebeur nie," sê sy.

Volgens Wallace het die dag alle verwagtinge oortref.

"Die kinders het hul landbouklere aangetrek, en ons het baie pret gehad. Ons het self 'n trekker gehad en foto's van die kinders en personeel geneem. Ons het in die vierkant bymekaargekom en die gebed het spontaan ontstaan. Dit was werklik besonders. Ons het ook nie gedink ons sou veel insamel nie, maar aan die einde van die dag kon ons 'n beduidende bedrag aan die droogtehulpfonds oorbetaal."

Sy beskryf die geleentheid as iets wat leerders en personeel op 'n besondere manier nader aan mekaar gebring het.

"Ek is ongelooflik trots op elke leerder en personeellid wat deelgeneem en bygedra het. Ons sleutelwaarde as skool is omgee, en hierdie dag was 'n tasbare bewys dat elke persoon hier werklik omgee," het Wallace gesê.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (3)

Laerskool Wesbank hou biddag vir reën
Laerskool Wesbank hou biddag vir reën
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 3

Laerskool Wesbank hou biddag vir reën

Original article: georgeherald.com

Related Articles