Gewapende roof in Pacaltsdorp

Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit, waarna ’n skoot afgevuur is en ’n man beseer is.
GEORGE NUUS - Chaos het gistermiddag, 4 Februarie, in New Dawn Park, Pacaltsdorp uitgebreek na ’n gewapende roof by een van die spazawinkels in die area.
Woedende inwoners het die vlugtende rowers agternagesit waarna ’n skoot, wat ’n omstander getref het, afgevuur is.
Inwoners het die vier verdagtes deur die kloof tussen New Dawn Park en Thembalethu agternagesit en een verdagte aangekeer wat later aan die polisie oorgegee is.
Beeldmateriaal van die voorval wys hoe hordes inwoners deur die bosse in die kloof beweeg. Later word die duidelik beseerde vermeende rower uitgebring deur die polisie.
Adjudant-offisier Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê verskeie eenhede van die polisie is na die voorval ontplooi en nog twee mans is later in die bosse in Sone 6 vasgetrek met van die gesteelde goedere steeds in hul besit.
“Daar word beweer dat minstens vier mans, waarvan een met ’n vuurwapen gewapen was, omstreeks 16:30 ’n spazawinkel in Japonicastraat binnegegaan het.
"Die verdagtes het die eienaars gedreig en selfone, sigarette, asook ’n onbekende bedrag kontant geroof voordat hulle te voet van die toneel gevlug het. Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit, waarna ’n skoot afgevuur is en ’n man beseer is,” sê Spies.
Die polisie het ook ’n vuurwapen gekonfiskeer.
Die man wat ’n skietwond aan sy been opgedoen het, is vir mediese behandeling na ’n hospitaal geneem
Die drie verdagtes bly in aanhouding en sal in die hof verskyn sodra hulle formeel aangekla is.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (2)


Gewapende roof in Pacaltsdorp
Related Articles

Armed robbery a traumatic experience
GRAAFF-RENET NEWS - "It's just...

Insurance killers guilty as charged
GRAAFF-REINET NEWS - Nomphelo Maloyi and...

Velle van tien gesteelde skape gevind
HOFMEYR NUUS - Hofmeyr en omgewing, soos die...
