Slagoffers se brawe aksies het ander dalk gespaar

OPINIE - Meisies wat 13 jaar oud is, is nie gereed vir seks nie. Hulle ontwikkel nog. Hulle is half kind, half tiener. Baie van hulle het nog nie eens begin menstrueer nie. My dogter is 13 en in gr. 7. Wanneer ek haar skool toe stuur, verwag ek dat sy in 'n veilige omgewing sal wees.
Ek verwag dat sy deur volwassenes wat haar belange op die hart dra gelei en onderrig sal word. Ek verwag dat sy veilig in haar klaskamer sal wees, of die onderwyser manlik of vroulik is.
Die heel laaste ding wat ek egter verwag is dat haar registeronderwyser met haar op sy bed in sy huis seks sal hê. Daar waar hy en sy vrou slaap. Óf vir haar pornografie sal wys.
En of dit nou met 'n meisie van daardie ouderdom se sogenaamde toestemming gebeur of nie, maak nie aan my saak nie. Sy is net 13.
Sy is 'n kind, en daarom is daar ook 'n aanklag soos seksuele aanvoring (grooming), want 'n kind van daardie ouderdom wat seks met 'n middeljarige het, is gemanupileer om dit te doen.
Dit word nie verniet deur die samelewing verbied nie. Dis 'n kriminele oortreding. 'n Mens onthou jou laaste laerskooljaar se onderwysers.
My registeronderwyser in gr. 7 was mnr. Du Plessis. Ek onthou hoe ek na hom opgekyk het, letterlik en figuurlik. Ek onthou sy kleur hare en hoe hy gelyk het.
Gelukkig het hy nooit sy magsposisie misbruik nie. Hy het 'n gesonde onderwyser-leerder-verhouding gehandhaaf.
Op 13 ry jy fiets in die straat. Jy bou LEGO. Jy speel hokkie en swem saam met jou maats. Jy lê nie op 13 op jou onderwyser se bed en hy het seks met jou nie.
Op Dinsdag 20 Januarie sit ek in hof E in Mosselbaai vir die pleitooreenkomsverrigtinge van 'n voormalige onderwyser: Die Staat vs. Barend Lodewikus Smit.
Smit (46) stap saam met sy regsverteenwoordiger die hof binne. In sy hand is 'n botteltjie water. Hy lyk gespanne. Vandag gaan hy skuldig pleit op agt aanklagte van seksuele misdrywe wat hy in 2019 en 2020 teen twee slagoffers wat in gr. 7 in sy registerklas was, gepleeg het.
Dit is hý wat met 'n kind in sy gr. 7-registerklas seks op sy bed gehad het. Hy was slim genoeg om 'n pleitooreenkoms met die staat aan te gaan. Die getuienis teen hom is verdoemend. Agt jaar effektief is beter as lewenslank.
Ek kyk na hom en na die horlosie teen die muur. Ek wonder hoe dit moet voel om te weet jy gaan oor 'n paar minute tronk toe. Ek wonder of hy lewenslank 'n gevangene in sy eie gedagtes sal wees?
Hy raak emosioneel toe sy persoonlike omstandighede aan die hof voorgehou word. Daar word vermeld dat hy en sy vrou uitmekaar uit is en besig om te skei. Hy vee trane af toe sy kinders se ouderdomme genoem word. Agter my hoor ek iemand saggies snik.
Ek draai om en sien 'n jong vrou met haar kop teen 'n ouer man se skouer. Dit lyk soos haar pa. En ek wonder hoe dit moet voel as jou registeronderwyser jou misbruik het. Hoe dit moet voel om nie 'n normale, gesonde herinnering van jou eerste seksuele ervaring te hê nie.
Hoe genees jy wonde wat jou toegedien is op 'n ouderdom waar jou vrouwees nog besig is om vorm aan te neem? Ek hoop sy sal altyd kan bly onthou dat sy die slagoffer was. Dat sy niks verkeerd gedoen het nie. Die fyner besonderhede van elke aanklag word een vir een aan die hof genoem. Die slagoffer huil steeds.
My maag maak 'n draai. Wat as dit my kind was?
Agt keer na mekaar sê Smit: "Skuldig."
Ek voel jammer vir sy familie. Hulle is ook slagoffers. Hulle moet nou aangaan met hul lewens nadat sy aaklige dade in die openbaar oopgevlek is.
Mossel Bay Advertiser het hieroor berig, want sulke donker misdrywe moet aan die lig gebring word. Die samelewing moet weet hoe verkeerd dit is. Hoe siek dit is. En dat jy daarvoor tronk toe kan gaan. Om as middeljarige met 'n 13-jarige seksueel om te gaan, is nie 'n oordeelsfout nie. Daar is iets ernstig fout in jou kop.
Ek haal my hoed af vir die twee slagoffers wat dapper genoeg was om 'n saak teen Smit te maak. Miskien het hulle ander kinders langs die pad gespaar?
Ek hoop hulle kan nou ook aangaan met hulle lewens, maar ek weet hulle lewens gaan nooit weer dieselfde wees nie.
*Louise Karsten is die redakteur van Mossel Bay Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (1)

Slagoffers se brawe aksies het ander dalk gespaar
Related Articles

Why investing in rural skills development is South Africa's smartest move
OPINION - Despite an abundance of choice in...

Money Matters with Matt: The Eighth Wonder of the World
I love charts and the way they can be put...

Offshore oil and gas: An empty promise full of consequences for South Africa and its people
OPINION - With the latest draft Integrated...
