George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Politics/Politieke skaakspel in Oudtshoorn
Politics

Politieke skaakspel in Oudtshoorn

George Herald
03 February 2026, 23:58(3 months ago)
4,462 views
Politieke skaakspel in Oudtshoorn
OUDTSHOORN NUUS - Die huwelik van die...

OUDTSHOORN NUUS - Die huwelik van die sogenaamde regering van plaaslike eenheid, wat sedert Julie 2024 in Oudtshoorn regeer het, is op die rotse.

Nadat die DA-koalisie in Julie 2024 onttroon is, is die dorp se regering deur vyf partye wat hulself as die land se eerste regering van plaaslike eenheid (RPE) beskryf het oorgeneem. Die partye was die ANC (7), VF+ (3), PA (2), OGI (1) en Advieskantoor (1). Die opposisie was die DA (7), Icosa (2), Saamstaan (1) en Good (1).

Kort voor die spesiale raadsvergadering op 29 Januarie het die PA, OGI en Advieskantoor egter skriftelik as 'n blok uit die ooreenkoms met die VF+ en ANC getree. Die RPE se situasie is verder verswak deur die bedanking van ANC-raadslid Abraham Tiemie, wat by die PA aangesluit het. Dit beteken dus dat Oudtshoorn tans deur 'n minderheidskoalisie van nege raadslede (VF+ 3 en ANC 6) regeer word.

Leon Campher van Advieskantoor het ook van die RPE onttrek. Foto: Liezl van Niekerk

Luidens 'n brief wat OGI, PA en Advieskantoor uitgereik het, volg hulle onttrekking onder meer op volgehoue en onopgeloste kommer rakende die bestuur, funksionaliteit en gedrag van die koalisie binne die raad.

Daar staan ook dat die RPE versuim het om die beginsels van samewerkende bestuur, kollektiewe aanspreeklikheid en etiese leierskap te handhaaf soos deur verskeie wetgewings bepaal word.

Die partye noem ook dat die RPE saamgestel is om gemeenskappe met integriteit te dien en toesig uit te oefen sonder vrees of begunstiging.

Reaksies van die speaker en burgemeester

Die speaker, Suzane Jansen, het op navraag gesê daar is talle kwessies wat dringend aandag verg en dat die burgemeester "sommige amptenare beskerm terwyl ander deur die burgemeester se kantoor met skriftelike dreigemente geïntimideer word".

Volgens haar het twee direkteure onlangs briewe van die burgemeester ontvang.

"Dit is geheel en al teenstrydig met die wet. Direkteure rapporteer aan die munisipale bestuurder en nie aan die burgemeester nie. Dit dien as verdere bewys van blatante politieke inmenging met die administrasie."

Sy verwys ook na die dorp se infra-struktuur wat in 'n "toestand van verval" is.

"Die infrastruktuur-departement is tans een van die grootste risiko's vir die munisipaliteit, terwyl departemente wat wel hul werk verrig, voortdurend aangeval en ondermyn word."

Vinstonia Lewis (OGI) en speaker Suzane Jansen (PA). Foto: Hannes Visser

In reaksie op 'n navraag aan die Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het hy gesê: "Die bedanking van die drie partye uit die regering van plaaslike eenheid volg op 'n skrywe, gedateer 20 Januarie 2026, waarin klagtes teen die speaker by die RPE se leierskap ingedien is. In hierdie skrywe is onder andere aangevoer dat die speaker se optrede in die raad bydra tot wanfunksionering en onsekerheid binne raadsprosesse, insluitend gevalle waar sy glo openlik die agenda van die opposisie sou volg.

"Daar is voorts uitgewys dat die nodige deursigtigheid en aanspreeklikheid ten opsigte van die aanwending van raads- en munisipale fondse ontbreek. Hierdie uitwysings het ongelukkig aanleiding gegee tot kwaadwillige bewerings en optrede."

Ten opsigte van die klagtes wat die burgemeester noem, het Jansen Dinsdag gesê: "Dit is nuus vir my. Ek het vanoggend 'n boodskap aan die burgemeester gestuur waarin ek versoek dat hy die beweerde klagtes aan my voorsien sodat ek daarop kan reageer soos deur die wet vereis."

Sy meld dat sy wel bewus is van klagtes teen die burgemeester.

"In teenstelling hiermee sit die kantoor van die speaker met talle klagtes teen die huidige burgemeester asook klagtes uit sy termyn toe hy self speaker was. Die raad sal binnekort hieraan aandag gee."

Allers sê ook in sy verklaring dat hulle die onttrekking van die drie partye te wagte was. "Die bedanking van die drie partye is nie onverwags nie, aangesien hulle hul reeds 'n geruime tyd gelede in praktyk by die opposisie geskaar het."

Op die vraag of hy bewus is van mosies van wantroue wat dalk teen hom ingedien is, het hy gesê: "Die moontlikheid van mosies bestaan altyd binne 'n demokratiese raadsopset, maar enige sodanige prosesse sal uitsluitlik deur die formele meganismes van die raad bepaal word. Ons voorsien tans geen probleme nie."

Hy het bygevoeg dat die VF+ en die ANC weer uitnodigings aan alle partye, insluitend die DA, gerig het om deel te wees van die RPE.

Die raadslid van Good, Sonia Bentley, het haar verlede week by die VF+ en ANC-koalisie geskaar nadat sy deur Allers op sy burgemeesterskomitee aangestel is. Intussen is Leon Campher van Advieskantoor ook as lid van die burgemeesterskomitee onttroon en volgens Allers is sy pos nog vakant.

Nuwe politieke skaakspel

Hierdie stap van die drie partye het nou 'n heel nuwe politieke skaakspel in die dorp aan die gang gesit. Met verlede week se raadsvergadering was daar 23 raadslede wat moes stem oor 'n mosie om die onwettige skoonmaak van die rivier deur die minister van plaaslike regering en omgewingsake te laat ondersoek. (Sien voorbladberig)

Die mosie is deur die DA gebring en is deur die DA, OGI, Saamstaan, Advieskantoor en die PA met 12 stemme teenoor 11 goedgekeur. Die 11 teenstemme was die ANC, VF+ en Icosa terwyl Good se raadslid tydens die stemming nie teenwoordig was nie.

Terwyl die stemme daarop dui dat Icosa nie meer die DA steun nie, het Vlancio Donson van Icosa in reaksie op 'n navraag gesê: "Ons (Icosa) en die DA het nog nie oor die vergadering gepraat nie, so vir nou is ons maar net in die opposisie totdat partye formeel met mekaar praat."

Wat die PA en samewerking met die DA aangaan het Jansen gesê daar is nog baie gesprekke en oorwegings aan die gang, maar hulle fokus bly om te doen wat in die beste belang van die dorp is.

Daar is wel Dinsdag verneem dat 'n mosie van wantroue teen Allers by die speaker ingedien is. Indien die mosie nie teruggetrek word nie, sal dit volgende week tydens 'n spesiale raadsvergadering dien.

Chris Macpherson van die DA en vorige burgemeester het gesê alle oë is tans op wyk 5 waar 'n tussenverkiesing op 25 Maart na Tiemie se bedanking plaasvind.

"Die uitslag van daardie verkiesing sal 'n daadwerklike invloed hê op Oudtshoorn voor die landwye plaaslike verkiesings wat in November plaasvind."

Intussen het slegs die PA bevestig dat hulle beslis 'n kandidaat in die tussenverkiesing gaan stel. Dit is nog nie duidelik watter ander partye gaan deelneem nie.

Vorige berig:

  • Regering van plaaslike eenheid vir dorp

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (4)

Politieke skaakspel in Oudtshoorn
Politieke skaakspel in Oudtshoorn
Politieke skaakspel in Oudtshoorn
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 4

Politieke skaakspel in Oudtshoorn

Original article: georgeherald.com

Related Articles