George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Politics/Nuwe verwikkelinge in Oudtshoorn-raad
Politics

Nuwe verwikkelinge in Oudtshoorn-raad

George Herald
28 January 2026, 02:38(4 months ago)
2,903 views
Nuwe verwikkelinge in Oudtshoorn-raad
OUDTSHOORN NUUS -  Abraham Tiemie het...

OUDTSHOORN NUUS -  Abraham Tiemie het as ANC-raadslid bedank en hom by die Patriotic Alliance (PA) aangesluit, ’n stap wat ’n tussenverkiesing in wyk 5 noodsaak.

Volgens Derek Petersen, woordvoerder van die PA, het Tiemie ’n paar weke gelede sy bedanking ingedien.“Ons verwelkom hom met ope arms in die PA en sien uit na die tussenverkiesing in wyk 5,” het Petersen gesê.

Hy het bygevoeg dat die PA binnekort sy kandidaat vir die tussenverkiesing sal bekendmaak.

'n Raadsvergadering is vir Donderdagoggend, 29 Januarie, om 10:00 geskeduleer.

Een van die agendapunte is die vervanging van PR-raadslid, André Barnard van die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI) deur Vinstonia Raylene Lewis. Dit is onduidelik hoekom Barnard deur sy party vervang word. Hy is op 27 Junie in die plek van Colan Sylvester aangestel.

In ’n skriftelike verklaring het Barnard gesê hy het kennis geneem van openbare verklarings wat deur die OGI uitgereik is rakende sy rol en optrede as raadslid.

André Barnard Foto verskaf

Hy het beklemtoon dat hy te alle tye ter goeder trou opgetree het, in ooreenstemming met sy ampseed en in die beste belang van die inwoners van Oudtshoorn.

“My verantwoordelikheid as raadslid is in die eerste plek teenoor die gemeenskap wat ek dien. My besluite word gelei deur die beginsels van verantwoordbaarheid, deursigtigheid en goeie regering. Integriteit is ononderhandelbaar,” het hy gesê.

Barnard het verder verduidelik dat samewerking met ander politieke partye oor sake wat voor die raad dien, nie as ontrouheid of wangedrag geïnterpreteer moet word nie.

As voorsitter van die burgemeesterskomitee (finansies) het hy aan die burgemeester gerapporteer, wat volgens hom deel is van ’n normale en noodsaaklike demokratiese proses.

Hy het ook kommer uitgespreek dat ernstige aantygings en besluite in die publiek gekommunikeer is sonder ’n regverdige en formele proses, insluitend die geleentheid vir hom om aangehoor te word. Volgens Barnard is die aangeleentheid nie hanteer in volle nakoming van prosedurele billikheid, die Grondwet en demokratiese beginsels nie.

“Ek bly verbind tot diens aan die mense van Oudtshoorn met integriteit en sal voortgaan om dit te doen terwyl ek duidelikheid en ’n oplossing deur die toepaslike kanale nastreef,” het hy gesê.

’n Navraag is aan die ANC en OGI gestuur en Pat Sambo, OGI-sekretaris, het geantwoord dat hulle op 'n latere stadium sal reageer. Terugvoering sal verskaf word sodra dit ontvang word.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (3)

Nuwe verwikkelinge in Oudtshoorn-raad
Nuwe verwikkelinge in Oudtshoorn-raad
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 3

Nuwe verwikkelinge in Oudtshoorn-raad

Original article: georgeherald.com

Related Articles