George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/Environment/Munisipaliteit krimineel aangekla
Environment

Munisipaliteit krimineel aangekla

George Herald
03 February 2026, 23:43(3 months ago)
1,270 views
Munisipaliteit krimineel aangekla
OUDTSHOORN NUUS - Die...

OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit staar 'n moontlike boete van R10 miljoen en/of 10 jaar tronkstraf in die gesig nadat 'n kriminele klag oor die Grobbelaarsrivier-skoonmaakprojek aanhangig gemaak is. Tydens 'n spesiale raadsvergadering op Donderdag 29 Januarie is bevestig dat die Groen Skerpioene die munisipaliteit se optrede ondersoek.

Chris Macpherson, DA-raadslid, het tydens die vergadering gesê dit is onbillik dat belastingbetalers moet opdok vir foute wat tydens die skoonmaakprojek gemaak is.

Hy het versoek dat die speaker, Suzane Jansen, 'n dringende versoek aan minister Anton Bredell moet rig vir 'n onafhanklike ondersoek om vas te stel wie verantwoordelik was vir die projek en wie vir die skade aanspreeklik gehou moet word. Dié aansoek is reeds ingedien. Volgens hom was die besluit oor die projek onwettig, aangesien dit nie deur die raad geneem is nie.

DA-raadslid Chris Macpherson het vir 'n onafhanklike ondersoek gevra. Foto: Liezl van Niekerk

Johan Duvenhage van die VF+ het 'n teenvoorstel ingedien en aangevoer dat daar reeds 'n interne ondersoek aan die gang is en dat 'n onafhanklike ondersoek eers ná afloop daarvan oorweeg moet word. Macpherson het egter sterk beswaar gemaak en daarop gewys dat persone wat glo toestemming vir die projek gegee het, ook by die interne ondersoek betrokke is.

Jansen het die twee voorstelle vir stemming voorgelê, waarna Macpherson se voorstel met 12 stemme teenoor 11 goedgekeur is.

Kriminele klagte

Rudolf van Jaarsveld, hoof van kommunikasie, departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het bevestig dat 'n kriminele klag aanhangig gemaak is nadat die munisipaliteit hul magtiging van 'n Seksie 30A-toestemming oorskry het.

"Dit sluit in die verwydering van 'n groot volume materiaal uit die waterloop, sowel as veranderinge wat aangebring is aan die rivierbanke en die natuurlike vloei van die rivier. Die departement het die kriminele ondersoek voltooi en die kwessie is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys om te besluit of vervolging gaan plaasvind."

Daar word nog op terugvoer van die NVG gewag.

"Om die omgewingsimpak van die werk aan te spreek is die munisipaliteit bedien met 'n nakomingskennisgewing vir die onwettige verwydering van meer as 10 kubieke meter materiaal uit die rivierloop."

Die munisipaliteit moes 'n rehabilitasieplan indien om die skade te herstel en dié plan is deur die departement goedgekeur.

Munisipaliteit reageer

Volgens Erna Wagenaar, waarnemende senior woordvoerder, is die munisipaliteit tans besig om die nie-nakomingsaspekte wat verband hou met werk wat in die Grobbelaarsrivierstelsel uitgevoer is, te ondersoek en reg te stel.

In ooreenstemming met instruksies van die provinsiale departement is die munisipaliteit gemagtig om materiaal met die hand te verwyder waar blokkasies in die rivierstelsel voorkom. Die omgewingseenheid voer gereelde weeklikse inspeksies uit om die situasie te monitor, prioriteitsareas te identifiseer en bevindinge aan die provinsie te rapporteer. Waar nodig, word skoonmaakwerk in samewerking met die parke- en ontspanningsdepartement uitgevoer, met streng toesig om te verseker dat geen swaarmasjinerie gebruik word nie.

Die munisipaliteit se rehabilitasieplan is intussen formeel deur die betrokke provinsiale departement goedgekeur. Gegewe die ekologiese sensitiwiteit van die rivierstelsel werk CapeNature en die departement van omgewingsake saam met die munisipaliteit en verskaf tegniese leiding en toesig.

As deel van die riglynvereistes is die munisipaliteit tans besig om 'n onafhanklike omgewingsbeheerbeampte aan te stel. Die beampte sal toesig hou oor die implementering van die goedgekeurde rehabilitasieplan en verseker dat dit streng volgens die vasgestelde voorwaardes uitgevoer word.

Vorige berigte:

  • Skoonmaak van Grobbelaarsrivier tydelik gestaak
  • Skoonmaak van Grobbelaarsrivier gestaak
  • Planne om Grobbelaarsrivier skade te herstel
  • Burgemeester positief oor rivierprojek

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (3)

Munisipaliteit krimineel aangekla
Munisipaliteit krimineel aangekla
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 3

Munisipaliteit krimineel aangekla

Original article: georgeherald.com

Related Articles