George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/General/Karoo Kaarte: 'n lewende argief
General

Karoo Kaarte: 'n lewende argief

George Herald
28 January 2026, 02:19(4 months ago)
9,652 views
Karoo Kaarte: 'n lewende argief
OUDTSHOORN NUUS - Op Woensdagmiddag, 21...

OUDTSHOORN NUUS - Op Woensdagmiddag, 21 Januarie, het die Karoo Kaarte-span by die Toekomsrus-gemeenskapsaal bymekaargekom om argieffoto's vir vanjaar se KKNK te kies.

Hierdie foto's staan sentraal tot Karoo Kaarte se program en aanbod by vanjaar se KKNK, wat onder andere 'n splinternuwe drama, Spoel, visuele kunsuitstalling en verskeie publikasies insluit.

"In 2026 vier ons nie net die 30ste KKNK in Oudtshoorn nie, maar ook vyf jaar van Karoo Kaarte, 'n projek wat stadig maar seker die manier verander het waarop plattelandse geskiedenisse gedokumenteer, gedeel en herverbeel word," sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.

"Wat begin het as 'n klein eksperiment in gemeenskapsvertelling, het sedertdien ontwikkel in 'n bekroonde model vir gemeenskapsgedrewe kulturele program-samestelling, onder die mentorskap en betrokkenheid van Vaughn Sadie en Neil Coppen. Danksy samewerking en sorg kon Karoo Kaarte oor dié vyf jaar sitkamers betree, deur familiealbums blaai en te hore kom van herinneringe van toeka se tyd, waarmee 'n lewende argief saam met die mense van Oudtshoorn opgebou is.

"Vir hierdie mylpaal keer die span terug na plaaslike fotografie om die uitruil van herinneringe, beelde, kennis en sorg tussen gemeenskappe, dikwels lank geskei deur ras, geografie en toegang, sigbaar te maak."

Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer was nie, stories oor persoonlike ruimtes, herinneringe uit kinderdae en tradisionele kennis van dié Klein-Karoodorp en sy mense.

'n Lewende argief word deur alle deelnemers aan die opwindende projek saamgestel en 'n platform word geskep wat plaaslike talent na die voorgrond bring, om die nasionale kollig te verbreed en kunstenaars uit eie bodem in te sluit.

Teater en visuele kuns word as kreatiewe prosesse ingespan, ondersteun deur Karoo Kaarte se navorsing en argief, om 'n spesiale program vir die KKNK saam te stel. Hierdie inhoud het oor die afgelope vier feeste harte gesteel met herinneringe, drome en kinderspeletjies eie aan Oudtshoorn-inwoners.

"Die Karoo Kaarte-program vir 2026 aktiveer plaaslike fotografiese versamelings wat met Oudtshoorn se veelvlakkige verlede in gesprek tree: Van intieme familie-argiewe en 'n plaaslike fotografiese ateljee tot die kragtige beelderfenis van Saamstaan, die anti-apartheid-gemeenskapskoerant wat die gemeenskappe waarteen gediskrimineer was se lewens gedokumenteer het. Foto's, mondelinge geskiedenisse en bydraes wat oor vyf jaar as deel van Karoo Kaarte versamel is, sluit naatloos hierby aan."

Karoo Kaarte eer die fotograwe, argiefbewaarders en storievertellers wat herinneringe lewend hou deur uitstallings, vertonings en gesprekke, en nooi gehore om saam nuwe maniere van sien en behoort in die Klein-Karoo te verbeel.

In Oudtshoorn verwys 'om kaarte te sny' na gesels en die vertel van ernstige en lighartige stories. Die naam 'Karoo Kaarte' sinspeel op dié dubbele betekenis van kaarte in die Oudtshoorn-streektaal.

Karoo Kaarte is 'n KKNK-projek, onder-steun deur die Jannie Mouton-stigting, Het Jan Marais Nationale Fonds en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (3)

Karoo Kaarte: 'n lewende argief
Karoo Kaarte: 'n lewende argief
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 3

Karoo Kaarte: 'n lewende argief

Original article: georgeherald.com

Related Articles