George Herald
Fri, 15 May·24°C
Home/News/General/Hulp gevra om sentrum op te rig
General

Hulp gevra om sentrum op te rig

George Herald
04 February 2026, 08:23(3 months ago)
8,492 views
Hulp gevra om sentrum op te rig
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se voortdurende...

OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se voortdurende uitdaging met kinders wat op straat bedel en soms toeriste en inwoners teister, het reeds vir geruime tyd kommer en frustrasie in die gemeenskap veroorsaak. Nou is ’n betekenisvolle stap geneem om die probleem op ’n gestruktureerde en deernisvolle wyse aan te spreek.

Na verskeie sosiale gemeenskapsvergaderings by die munisipaliteit, waar die burgemeester en ander belanghebbendes betrokke was, is ruimte by St. Luigi se Scrosoppi-Sorgsentrum in Wolfweg geïdentifiseer om ’n ondersteuningsprogram vir straatkinders te vestig.

Die program sal deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling en kinderwelsyn bestuur word. Kinders wat van die straat af opgetel word, sal na die fasiliteit geneem word, waar hulle gedurende die dag sorg, toesig en maaltye sal ontvang.

Volgens die rolspelers sal die departement individuele gevalle ondersoek om vas te stel waarom kinders nie skool bywoon of tuis woon nie. Daaglikse programme sal ook geïmplementeer word om die kinders besig te hou, te ondersteun en veilig te hou.

Fasiliteit benodig ondersteuning

Om die sentrum funksioneel te maak, word verskeie items en verbeterings benodig. Dit sluit onder meer herstelwerk aan die dak, die vervanging van vensters, die installering van veiligheidsheinings, ’n stort, asook meubels, kombuistoerusting, higiëneprodukte en opvoedkundige materiaal in. ’n Siekeboeg, kantoorarea, Wi-Fi en sekuriteitskameras vorm ook deel van die behoeftes.

Die gemeenskap word versoek om die projek te ondersteun deur donasies, borgskappe of finansiële bydraes. Volgens die organiseerders kan selfs klein bydraes ’n betekenisvolle verskil maak.

Items kan by St. Luigi se Scrosoppi-sorgsentrum in Wolfweg afgelaai word, of by die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor in Voortrekkerweg. Belangstellendes wat meer inligting verlang of maandelikse bydraes wil lewer, kan Oudtshoorn- en De Rust-toerisme by [email protected] of 044 279 2532 of vader Mark van der Merwe by Scrosoppi by 071 721 4505 kontak.

Die inisiatief word beskou as ’n belangrike samewerkingspoging tussen owerhede, organisasies en die gemeenskap om straatkinders in Oudtshoorn beter te beskerm en te ondersteun.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

Photos (2)

Hulp gevra om sentrum op te rig
Oudtshoorn Courant 5 February 2026
1 / 2

Hulp gevra om sentrum op te rig

Original article: georgeherald.com

Related Articles