Boorgate in Kannaland herstel

KANNALAND NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het Maandag 5 Januarie in samewerking met die humanitêre organisasie Gift of the Givers en Ladismith Kaas, drie boorgate buite Ladismith suksesvol herstel.
Volgens Marais Kruger, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, speel die munisipaliteit hoofsaaklik 'n oorsig- en koördineringsrol in die projek. Kruger het die media, insluitend die SABC, toegespreek en sy dank uitgespreek teenoor Gift of the Givers en Ladismith Kaas vir hul betrokkenheid en ondersteuning.
"Ons is baie dankbaar vir die hulp wat met hierdie projek verleen is. Dit is egter belangrik dat inwoners ook hul deel doen. Waterbesparing bly noodsaaklik, en die boodskap moet elke inwoner bereik," het Kruger gesê.
Mario Ferreira van Gift of the Givers het verduidelik dat die organisasie op versoek van die Wes-Kaapse provinsiale regering by die projek betrokke geraak het.
"Ons het die hulp van iemand wat spesialiseer in die sink en herstel van boorgate, Martyn Landman van die Vrystaat, ingeroep om hierdie projek suksesvol af te handel," het Ferreira gesê.
Volgens Ferreira behoort die drie herstelde boorgate voldoende water aan die groter Ladismith-gebied te voorsien en kan dit ook help om Zoar se huidige waternood te verlig. Die boorgate word van elektrisiteit voorsien deur 'n groot aantal sonpanele wat op die terrein geïnstalleer is.
Ten spyte daarvan dat die JF le Grange-dam en die Goewermentsdam feitlik leeg is, vul die dorp se reservoirs tans weer op, danksy die herstelde boorgate. 'n Navraag is aan die Kannaland-munisipaliteit gestuur, maar geen terugvoer is ontvang nie.
Vorige berigte:
Waterkrisis in Kannaland
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Photos (2)


Boorgate in Kannaland herstel
Related Articles

Foot and Mouth Disease detected on Eastern Cape farm
EASTERN CAPE NEWS - The Eastern Cape...

Streng reëls om bek-en-klouseer te bekamp
KAROO NUUS - Die afgelope week het dit...

Eastern Cape revives agricultural shows to boost smallholder farmers market
EASTERN CAPE NEWS - The Eastern Cape...
